Wiktionary:Selfstandige naamwoord

Vanuit Wiktionary, die vrye woordeboek.
Spring na: navigasie, soek

'n Selfstandige naamwoord is 'n woord of frase wat na 'n persoon, plek, ding, gebeurtenis, voorwerp of eienskap verwys.

Uitkenning[wysig]

Selfstandige naamwoorde word meestal gekenmerk deurdat hulle in meervoude en verkleiningsvorme omgesit kan word deur die byvoeging van 'n agtervoegsel, en in sekere gevalle dat hulle 'n geslag kan aandui. Die beste manier om 'n selfstandige naamwoord te identifiseer is om te onthou dat dit meestal iets fisies aandui, bv. 'n baksteen. Slegs selfstandige naamwoorde kan in die meervoud geskryf word.

Die maklikste metode wat op skool geleer word om 'n selfstandige naamwoord uit te ken is as volg: As jy 'n lidwoord (m.a.w.) Die of 'n voor die woord kan sit, dan is dit 'n selfstandige naamwoord.

Soorte[wysig]

Daar is 5 soorte selfstandige naamwoorde.

Eiename[wysig]

Eiename is spesifiek en individualiserend en word altyd met 'n hoofletter geskryf bv. Pretoria, Kaapstad, Pieter van der Merwe.

Sommige eienaam kan uitbrei word, byvoorbeeld:

Hanna is Piet se suster.
Hanna Coetzee is Piet Nel se suster.

Dit is altyd die geval met 'n voornaam en van. Dit dui die betrokke persoon nog nader aan as wat slegs die voornaam (of die van) dit doen. Die byname val ook hieronder. Byvoorbeeld: as daar twee Hanna Nels is, kan hulle van mekaar onderskei word deur byname, byvoorbeeld Dik Hanna en Swart Hanna.

Dit kan ook 'n pleknaam wees:

a) Stede: Johannesburg, Bloemfontein, Londen. Port Elizabeth, New York. b) Dorpe: Vryheid, Koster, Ladysmith, Petrusville, De-aar, Vryheid. c) Lande: Engeland, Suid-Afrika, Ghana, Egipte, Israel, Indië, Portugal. d) Kontinente: Asië, Amerika, Afrika, Europa, Antarktika. e) Eilande: Madagaskar, Mauritius, Bouvet, Kuba, Gough. f) Riviere: Oranje, Vaal, Mississippi, Kongo, Nyl, Apies. g) Streke: Wes-Transvaal, Noord-Kaap, Oranje-Vrystaat, Natal.

Of die name van produkte:

Ford, Wim, Kodak, Caterpillar, Fordson, Remington, BSA, Mauser, Grundig, Gallo.

Soortname[wysig]

Name van soorte en dinge, bv. honde, katte, skape, tafel en eetlepel. Soortname het altyd meervoudsvorme of verkleiningsvorme: kas (kasse, kassies), mens (mense, mensie, mensies), skoen (skoene, skoentjie, skoentjies).

Versamelname[wysig]

Dit dui 'n groep soortname aan, bv, 'n swerm bye, 'n skool visse, 'n eskader vliegtuie. Die versamelnaam staan altyd voor 'n ander selfstandige naamwoord. As ons sê: Daar was swerms van hulle, dan is swerms 'n soortnaam.

Enkele voorbeelde ter illustrasie (die versamelnaam word in vetdruk aangedui):

  • Dit is 'n pragtige bos blomme.
  • Ek het 'n stapel boeke om te studeer!
  • Vir watter rugbyspan skreeu julle?

Stofname[wysig]

Name van elemente en stowwe, bv. goud, koper, lood.

Wanneer hierdie woorde in hul meervoudsvorme in sinne gebruik word, is hulle gewone soortname: Hy het baie ysters in die vuur. Hy gooi met klippe.

Abstrakte selfstandige-naamwoorde[wysig]

Name wat dinge beskryf wat ons nie met die blote oog kan sien nie, maar nog steeds 'n lidwoord voor aan kan voeg (o.a. emosies), bv. liefde, haat, nyd, afguns, blydskap, eerbied, ensovoorts. Die woord moet in dié besondere sin nie 'n meervoud kan kry nie: Die liefde is lankmoedig. Afguns is afstootlik.

Bepaaldheid[wysig]

In Afrikaans kan 'n selfstandige naamwoord bepaald of onbepaald wees. Die lidwoorde "die" en "'n" word gebruik om dit aan te gee:

Ek sien 'n perd -- onbepaald
Ek sien die perd -- bepaald

In die meervoud word nogtans geen onbepaalde lidwoord gebruik nie:

Ek sien perde -- onbepaald
Ek sien die perde -- bepaald

In ander tale kan dit anders wees. Daar is tale soos Skots-Gaelies of Grieks wat net bepaalde lidwoorde het en daar is ook tale soos Latyn of Russies wat heeltemal geen lidwoorde het nie. In hierdie tale bestaan die verskil tussen bepaald en onbepaald glad nie.

Telbaarheid[wysig]

Die meeste selfstandige naamwoorde is telbaar en het 'n meervoud:

Een perd - twee perde

Daar is egter ook woorde wat ontelbaar is en wat geen meervoud het nie:

die melk - die melke

In die onbepaalde geval bly hulle sonder lidwoord:

Ek drink melk.

Hulle word dikwels saam met 'n woord gebruik wat 'n hoeveelheid aangee:

Drink 'n glas melk!

In ander tale is daar soms naas 'n enkel- en 'n meervoud ook 'n tweevoud of selfs 'n drie- of weinigvoud.